'n Optiese vesel is 'n glas- of plastiekvesel wat lig langs die lengte daarvan dra. Die ontwikkeling van optiese vesel het eers in 1965 in alle erns begin. In daardie stadium was die beginsels van optiese vesel reeds gevestig, maar as gevolg van hoë verliese was die tegnologie aanvanklik nie kommersieel lewensvatbaar nie.
Charles K. Cao en George A. Hockham, navorsers van die Britse maatskappy Standard Telephone and Cables, het met die idee vorendag gekom dat verliese van minder as 20 dB per kilometer moontlik is. Hulle het die teorie gehad dat verliese deur onsuiwerhede veroorsaak word, en dat dit verwyder kan word, maar nie deur fisiese effekte soos dispersie (oftewel skifting, strooiing of pulsverbreding) nie.
In 1970 is die kritieke vlak van 20 dB per kilometer bereik deur navorsers van Corning Glass Works, tans bekend as Corning Incorporated.[1] Hulle het die verlies beperk tot 17 dB per kilometer deur silikaglas met titaan te behandel. 'n Paar jaar later het hulle die prestasie verbeter tot slegs 4 dB per kilometer. Tans is die verliese 0,19 dB per kilometer by die 1550 nm golflengte.[2]
Optiese vesel word vervaardig van glas of plastiek. Dit lyk amper soos 'n mens se hare, maar is dunner en kan lig gelei. In koperkabels word elektrisiteit gelei deur elektrone maar in optiese vesel word lig voortgeplant as fotone. Die glas wat gebruik word, is suiwer silikon en word deur middel van ’n chemiese proses vervaardig. Glas-optiese vesel word veral in die telekommunikasie-industrie gebruik.
Optiese vesel van plastiek het beperkte gebruik en word hoofsaaklik vir multimodusprodukte gebruik.
Optiese vesel word veral gebruik vir kommunikasie, aangesien dit ’n groot bandwydte kan hanteer. Bandwydte word in bisse per sekonde of bis/s gemeet. Hedendaagse bandwydtes van 40 Gbis/s is alledaags, en 1 Tbis/s is op die horison. Optiese vesel het koperkabel vir ’n paar redes vervang. Eerstens kan optiese vesel seine met minder verlies gelei — dus verder reik; en tweedens is dit immuun teen elektromagnetiese steurings.